Kaartjie verkope open om 09:00 am op 1 Augustus 2023

Spoegwolf en die Legendes

Organized by Vonk Musiek
Visit Website
Maak reg vir 'n onvergeetlike aand van musiek saam met Spoegwolf en van ons land se grootste legendes. Op 18 November 2023 gaan die Carnival City se Big Top Arena 'n eenmalige vertoning aanbied waar Spoegwolf en van die grootste rolspelers in Afrikaanse musiek jou uitnooi vir 'n aand van onvergeetlike musiek.

Die konsert word georganiseer deur Vonk Musiek en Spoegwolf en dien as viering van ons land se belangrikste skrywers en grootste musieklegendes.

Die program sluit vertonings in deur Spoegwolf, die legendariese Anton Goosen, Dozi, Valiant Swart, Gian Groen, Ryno Velvet, die ikoniese Tasché en opkomende duo Vrede.

Spoegwolf is bekend as een van die land se beste "live acts". Die groep bestaan uit Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang), Chris von Wielligh (kitaar, klavier), Albert van der Merwe (baskitaar, sang, rymklets) en Danie du Toit (sang, kitaar, klavier). Hul treffers sluit in "Loerie", "Lenie Blou", "Bittermaan" en "Somerset-Wes". Spoegwolf het geskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse musiekgroep te wees wat die nommer een plek op die Apple Music treffersparade in Suid-Afrika bereik het.

Anton Goosen, bekend as die "liedjieboer", is 'n belangrike figuur in Afrikaanse musiek. Sy bydrae deur sy loopbaan het 'n skatkis van Afrikaanse musiek opgelewer en verdien hom groot respek as die vader van Afrikaanse rockmusiek. Hy is veral bekend vir treffers soos "Pasgetroud", "Kruidjie-roer-my-nie", "Pampoene oppie dak" en "Waterblommetjies".

Dozi is 'n kunstenaar wat kultuurgrense oorskry met sy optredes in Afrikaans, Engels en Zoeloe. Sy treffers sluit in "Ou Ryperd" ('n heropname), "Tussen Jou en My", "Staan Net 'n Bietjie Stil" en "Maybe my Baby". Sy bydrae tot musiek het hom reeds laat optree voor konings en staatshoofde regoor die wêreld in die Afrikaanse taal.

Valiant Swart, ook bekend as die "Mystic Boer", is 'n akteur, sanger en liedjieskrywer wat bekendheid verwerf het vir sy merkwaardige bydrae tot Afrikaanse musiek. Sy treffers sluit in liedjies soos "Sonvanger", "Mystic Boer" en "Eye Shadow".

Gian Groen het sy opkoms beleef as die stigter van die alternatiewe Afrikaanse rockgroep, Spinnekop. Hy het homself gevestig as 'n solo-kunstenaar met vrystellings soos "Met die maan gepla", "Welkom in Somersburg", "Lied van die engele" en "Groen Kitaar". As liedjieskrywer het Gian vir legendes soos Laurika Rauch geskryf, en sy liedjie "Vier seisoene Kind" word beskou as een van die mees "gecoverde" liedjies in Afrikaanse musiek. Met sy jongste vrystelling, "Lonely Troebadoer", deel hy sy ervaring van isolasie as musikant gedurende die wêreldwye pandemie en het hy twee aaneenlopende weke op die RSG Top 20-treffersparade die nommer een posisie bereik.

Ryno Velvet is 'n Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler wat gebore is in Bellville, Kaapstad. Hy is veral bekend vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse rockmusiek en sy unieke styl om 'n regshandige kitaar linkshandig en onderstebo te speel. In 2006 het Ryno Velvet bekendheid verwerf met sy treffertjie, "Ai My Lam", en sedertdien het hy vier ateljee-albums vrygestel: Karma (2006), Harp (2008), Bulletin (2010) en Alfabet (2014). Meer onlangs het hy saamgewerk met Jan Blohm vir die Velvet-Blohm-album.

Tasché het haarself 'n naam gemaak toe sy op 19-jarige ouderdom die derde seisoen van "The Voice SA" gewen het. Sy staan bekend vir haar charismatiese verhoogpersoonlikheid en kragtige stem. Haar treffers sluit in "Sal jy vir my wag", "Die een" en onlangs "Papa Probleme".

Vrede is 'n alternatiewe folk-duo wat bestaan uit Storm Opperman en Francois Roux. Hulle is bekend vir hul opgewekte musiek wat 'n positiewe boodskap uitstraal. Hulle domineer die trefferparades met liedjies soos "Perspektief", "Klein Wêreld" en onlangs "Hart & Goud".

Spoegwolf en die Legendes beloof 'n eenmalige vertoning wat 'n belewenis van 'n leeftyd sal wees, met kunstenaars wat die beste liedjies uit hul repertoires sal opvoer, asook 'n paar samewerkinge tussen die kunstenaars.

Geen dele van die vertoning sal vooraf opgeneem word nie, en gaste kan uitsien na 'n aand van lewendige musiek deur lewende legendes.