This event is over.

Afrikaans Gaan Global

Organized by Afrikaans Gaan Global

Afrikaans Gaan Global in Sun City!
30 & 31 Oktober.

GROOT pryse om te wen!


Ná die ongelooflike sukses van die eerste Afrikaans Gaan Global-stroomkonsert wat vroeg in September aangebied is, word die tweede een oor ’n naweek in Sun City aangebied met organiseerders wat belowe dat dié konserte nóg verdere verwagtinge sal oorskry. Dié keer word aktiwiteite oor die hele naweek vanaf Sun City aangebied en musiekliefhebbers kan ook deel in die aksie met ’n beperkte aantal kaartjies wat beskikbaar is.

Die naweek skop amptelik op Vrydag, 30 Oktober af met die gewilde rugby kletsprogram, Toks en Tjops, wat regstreeks op kykNET vanaf The Boma, Sun City, uitgesaai sal word. Na afloop van dié uitsending vind die eerste musiekgenot vanaf 21:00 plaas met Ricus Nel, Jo Black, Refentse, Brendan Peyper, Appel, Ray Dylan en Tashé in aksie tydens die Hardekole-konsert. Toegang vir dié vertoning is ook in die naweekpakket ingesluit en sluit ’n spesiale Boma Braai Buffet ete in.

Die amptelike Afrikaans Gaan Global-konsert op Saterdag, 31 Oktober, spog met ’n indrukwekkende kunstenaarslys en daar kan uitgesien word na 27 kunstenaars wat die partytjie aan die gang gaan hou – weer vir 12 ure lank. Dié kunstenaars is Jo Black, Snotkop, Refentse, Spoegwolf, Adam Tas, Juanita du Plessis, Pieter Koen, Wicus van der Merwe, Demi Lee Moore, Joe F, Ricus Nel, Brendan Peyper, Nicholis Louw, Nádine, Elizma Theron, Tasché Burger, Appel, Elvis Blue, Kurt Darren, Die Campbells, Synth Peter, Jay du Plessis, Karen Zoid, Early B en Ray Dylan. Vanes-Marie du Toit sal saam met Pieter Koen en Wicus Van der Merwe die aanbieders wees.

"Die 27ste kunstenaar sal deur ’n paneel van kunstenaars aangewys word vanuit voorstelle van die publiek. Enige iemand wat ’n kunstenaar wil nomineer, kan dit op Afrikaans Gaan Global se sosiale media bladsye doen en sodoende ’n opkomende kunstenaar die geleentheid gee om ook deel te wees van dié konsert," het Kurt Darren, een van die organiseerders en breinbaas agter Afrikaans Gaan Global, vertel.

Die publiek het tyd tot Vrydag, 23 Oktober om ’n kunstenaar te nomineer en dié 27ste kunstenaar wat saam met die room van die Afrikaanse musiekbedryf sal optree, word op Maandag, 26 Oktober aangekondig.

Boonop staan een kaartjiehouer ook die kans om ’n ongelooflike reis na Europa te wen deur MSC Cruises en die prys sluit ook twee ekonomiese retoervlugte vanaf SA in. "Elke kaartjiehouer kom in aanmerking vir die prys ter waarde van meer as R150 000. Al wat jy moet doen is om ’n kaartjie te koop," het Kurt Darren bygevoeg.

Verder is daar ook weer reuse pryse op die spel met gelukkige trekkings ter waarde van meer as ‘n halfmiljoen rand en dié raffle-kaartjies kan ook op iTickets, vir slegs R100, gekoop word.
Die idee vir Afrikaans Gaan Global het aanvanklik gespruit vanuit die behoefte aan ekonomiese verligting in die Afrikaanse musiekbedryf met die Covid-19-pandemie wat elkeen in die vermaaklikheidsbedyf gestroop het van enige inkomste.

"Ons het ’n risiko geneem deur ’n unieke vertoning van twaalf ure se ononderbroke vermaak aan Afrikaanse musiekliefhebbers te bied en die ongelooflike ondersteuning en terugvoer tydens die eerste konsert het ons stomgeslaan, Duisende musiekliefhebbers vanuit Australië, Nieu-Seeland, Europa, Engeland, Kanada, VSA en natuurlik almal van regoor Suid Afrika en Namibië het ingeskakel om deel van die aksie te wees," het Albertus Potgieter, eienaar en besturende direkteur van iTickets - wat die konsert aanbied, gesê.

Die Kunstenaarsfonds is ook deur die Afrikaans Gaan Global se passievolle vriende by Deon Schoeman & Associates en Old Mutual Wealth gestig en te danke aan die kaartjieverkope én donasies van die eerste konsert kon kunstenaars en musikante bykomende finansiële bystand van meer as R130 000 ontvang. Dié inisiatief sal voortbestaan vir die volgende konserte en beloof om ‘n groot verskil in die musiekindustrie te maak.

Slegs 500 pakkette vir die naweek se konsert is beskikbaar om te voldoen aan die inperkingsmaatreëls en beloop R1 500 per BBP-kaartjie. Dié pakket, per persoon, sluit ’n kaartjie na die Hardekole-konsert op Vrydag, 30 Oktober om 21:00 by The Boma in, asook vir Afrikaans Gaan Global op Saterdag, 31 Oktober, met volle dagtoegang na die oord. Akkomodasie is uitgesluit.

’n Beperkte aantal verblyfpakkette is ook beskikbaar en belangstellendes sal moet wikkel om hul kamers teen dié spesiale tariewe te bespreek.

Diegene wat die konserte gaan stroom kan hul kaartjie teen R250 kry - dit sluit beide vertonings,Hardekole en Afrikaans Gaan Global, in.

Huispartytjies kan ook weer aangebied word met pakkette wat teen R3 000 beskikbaar is. Dié #HuisFees-pakket sluit die volgende in: ’n Mini klankstelsel, ’n tegnikus, asook ’n 60" TV-skerm vir jou huis of venue tydens die Afrikaans Gaan Global-kuier. Dit word afgelewer en geïnstalleer.

Donasies aan die Kunstenaarsfonds kan ook weer gemaak word en die #MyFonds-projek, waar die publiek hul eie skakel vir kaartjiebesprekings kan kry en sodoende R20 per verkoopte kaartjie deur hul skakel kan verdien, sal ook weer aktief wees.

Om deel te wees van die #MYfonds veldtog registreer hier:

computer-icons-button-clip-art-register-button-removebg-preview-1