This event is over.

Karoo - Kersfees met Deon Meyer & Coenie de Villiers

Doors open at 1:30 pm
Organized by OPTOG!
Visit Website
Kom vier 'n vroeë Karoo-Kersfees saam met spanningskrywer Deon Meyer en musieklegende Coenie de Villiers. Die program word ingelei met 'n paar van die mees geliefde Kersliedjies, en dan voer Deon en Coenie vir oulaas hulle Karoo Suite uit.

Hierdie produksie het Suid-Afrikaanse gehore op hulle voete gehad, en dit sal bes moontlik die laaste vertoning daarvan vir die afsienbare toekoms in Pretoria wees. Maar daar is 'n baie spesiale bonus tydens hierdie konsert. "Wel, ons werk tans aan Karoo Suite 2: Karoonagte," vertel Coenie. "Hierdie keer vertel ons nag-verhale – Deon het 'n boek geskryf met die naam van Karoonagte en ek het die gelyknamige liedjie. Ons het gedink dis die ideale geleentheid om die prag van die Karoo te besing."

Deon is weer eens die verteller, maar hierdie keer is hy nie die fotograaf soos met die eerste produksie nie. "Ons gebruik onder meer beeldmateriaal van NASA, en ook van die National Geographic-fotograwe wat onlangs die hemelruim vir daardie betrokke tydskrif vasgevang het," vertel Deon. Deon is weer verantwoordelik vir die teks en is ook die verteller op die verhoog, terwyl Coenie weer eens die inkleding en musiek verskaf.

Die bonus tydens die Karoo-Kersfees konsert, is dat Coenie en Deon 'n lusmaker vir die nuwe produksie gaan aanbied, hoewel dit eers in 2020 debuteer. "Ons doen 'n enkele hoofstuk uit die nuwe Karoo Suite 2 produksie tydens die konsert," vertel hulle opgewonde. "Ons hoop hierdie lusmaker sal mense volgende jaar na die volledige produksie toe lok!"

Hulle word op die verhoog bygestaan deur die room van Suid-Afrika se musikante: Jaconell Mouton op klawers, Mauritz Lotz op kitare en David Klassen op perkussie. Coenie is self weer agter die klavier.