This event is over.

Pretoria FM Boekefees

Organized by PretoriaFM
Visit Website
Bespreek vir meer as een Boekbespreking!

Boek Beskrywings:

Sê Groete vir Ma
Hannes van Wyk se eenmanvertoning


Teks: Desiré Gardner
Regie: Sandra Prinsloo

Reghardt Roberts van Aswegen wie se hele lewe, menswees en bestaan draai om die vrou wat hom in die lewe gebring het. Dit is ’n drama waar die lag en die traan baie na aan mekaar lê.
’n Knop-in-die-keel, tong-in-die-kies kykie na die dinge waarmee die meeste mense hulle kan vereenselwig. Die “blerrie getik-tok van die klok”, oudword en siekte. Vir elkeen wat ’n ma het, gehad het of sélf een is.

Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die soutwatergogga (Kinderfiksie)
Henry Ferreira

Cowboy Koekemoer en sy getroue kameelperd, Shorty, ontspan by die see. Daar, onder die skaduwee van ’n palmboom, koop hulle klappersap by Kaptein Superkoos.
Dit is ’n heerlike strand en nie lank nie, of Koekemoer en Shorty is albei op ’n branderplank. Hulle geniet die golwe vreeslik.
Maar iets is nie pluis nie. Hoekom is die strand so stil?
Kaptein Superkoos vertel hulle van die soutwatergogga wat mense terroriseer.
Nou is Koekemoer en Shorty gereed: G’n skelm sal in hulle pad staan nie, al is dit vakansie!


Hekel en word Heel (Niefiksie)
Nadia de Kock en Hilda Steyn

Hekel ’n pad na genesing.
Hier is ’n hekelboek met ’n verskil. Vir die eerste keer in Afrikaans vertel vroue hoe hekel hulle deur moeilike en donker tye gehelp het. Die stories gaan oor verlies, werkverwante stres, depressie, siekte, die dood van ’n kind, ook emosionele en fisieke mishandeling.
Een-en-twintig dapper vroue maak hul harte oop en vertel hul aangrypende verhale van stryd en uiteindelike oorwinning. Al kan hul omstandighede nie verander nie, word die probleme deurgaans op ’n konstruktiewe en kreatiewe wyse hanteer.
Die boek bevat een-en-twintig verhale met een-en-twintig gepaardgaande projekte en patrone wat die leser kan help om stres of trauma te verwerk.
Nadia de Kock is ’n skrywer van Johannesburg.
Hilda Steyn ontwerper van Pretoria. Haar patrone word wêreldwyd geniet.


Ongeslyp: Skitterende staaltjies van lank gelede (Geskiedenis)
Jan Roderigues

In die onstuimige beginjare van Alexanderbaai se diamantbedryf was dit Kingsley Seale se onbenydenswaardige taak om die blink klippies van die Hans Merensky-assosiasie skoon te maak, te waardeer en veilig in die Kaap te besorg. In dié verantwoordelik pos het hy eindelik gesorg dat £5 miljoen se diamante ontgin en verhandel word, ten spyte van smokkelaars se vindingryke pogings om n deel van dié fortuin in hul eie sak te steek.


'n Stukkie van die legkaart (Politiek)
Dr. Rina Venter

Dr. Rina Venter is die eerste en laaste vrou wat voor 1994 in ’n Suid-Afrikaanse kabinet gedien het.
As Minister van Gesondheid onder mnr. F.W. de Klerk bevind sy haar in die politieke en maatskaplike binnekring tydens die oorgang van apartheid na demokrasie.
Sy skryf oor haar lewe in die aktiewe politiek van “eie” en “algemene” sake wat onbekostigbaarheid en verdubbeling tot gevolg het, oor persoonlike magsbasisse wat tot spanning lei, haar tyd as Minister van Gesondheid en die politieke oorgang. Oor die onderhandelingsproses, soos sy dit as ’n kabinetslid beleef het, skryf dr. Venter waarskynlik met groter openheid en eerlikheid as enige van haar kollegas, ook oor die foute wat gemaak is.
Dit is egter nie ’n boek vol verwyte nie, maar ’n toekomsgerigte werk waarin foute wel deeglik ontleed word om hulle in die toekoms te probeer voorkom. Vir elkeen wat soek na ’n oplossing vir probleme waarmee Afrikaanssprekendes vandag worstel, is dit verpligte leesstof.


Kanker schmanker! (Outobiografie) & Doodsengel (Fiksie)
Madelein Rust

Kanker schmanker (Biografie)
Kanker schmanker! is ’n boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil én laat lag. Dis ’n verhaal vir elkeen van ons wat ’n stryd van enige aard stry. Meer nog: Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help ook hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan.

Doodsengel (Fiksie)
Magdalena Bakkes moor vir die derde keer in haar lewe en kies om te vlug, weg van die molestering en geweld wat haar kinderjare gekenmerk het. Niemand, behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie; en niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie.
Sy sal nooit weer in ’n sel sit nie, al kos dit wát.


Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 (Geskiedenis)
Dr. Jackie Grobler

Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 is amptelik in Maart vanjaar bekendgestel en is sedertdien vereer met die Protea Boekhuisprys vir beste werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 word beskou as die mees omvangryke bron oor dié oorlog en bevat nagenoeg 200 foto’s, kaarte en illustrasies. Ervaar die oorlog soos dit nog nooit vantevore opgeteken is nie – met gedetailleerde beskrywings (met inligting uit Boere- en Britse bronne) oor die aanloop tot die stryd; die beleëring van onder meer Potchefstroom, Pretoria en Standerton; en inligting oor elke bloed- en sweetoomblik by die veldslae van Laingsnek, Schuinshoogte en die finale, legendariese Slag van Majuba.


Die Medusa-Kode (Fiksie)
Dawie Louw

Die mensdom raak verslaaf - aan sosiale media, die kuber en alles virtueel. Is rehabilitasie moontlik? Dit lyk of dinge reeds onomkeerbaar is. Tensy Medusa, die berugste kuberkraker ooit, vrye teuels gegee word om haar missie te voltooi: om sosiale media asook die ganse internet, te vernietig. Om terug te keer na tye toe realiteit en fantasie verskillende begrippe was. Toe feit nog van fiksie onderskei kon word.
In ’n desperate poging om die kuberruim te beskerm, vertrek ’n span IT-spesialiste na die barre verlatenheid van die Namibwoestyn. Om daar, buite bereik van die internet en Medusa se tentakels, hulself ’n laaste kans te gee om daardie onvernietigbare kode te ontsyfer.

Meer as 100 van Dawie Louw se kortverhale verskyn in tydskrifte. Spookeffek, die eerste boek van ’n trilogie jeugverhale, word in 2018 met die Maskew Millar Longman literêre toekenning bekroon.


Dans Miena dans (Fiksie)
Rhona Scheepers

Miena staan heeldag in die son en karre oppas. Haar Frikkie is ’n goeie man en hy probeer geld inbring met sy karre se regmaak. Wanneer Rykie, hul dogter, in die kliniek beland en haar paaie met Anita kruis, is daar opregte omgee by Anita vir hierdie uitgeteerde kind.
‘n Hartroerende verhaal oor mense en die lewe. Hierdie roman spreek kwessies soos eetsteurnisse, sosiale stand en aanvaarding aan. Mense verskil, maar almal ervaar pyn. Slegs deur opregte deernis en empatie kan ons mekaar help.


As mens geluk kon proe (Jeugfiksie) & Die 6 weke van Thomas & Ella (Jeugfiksie)
Zelda Bezuidenhout

As mens geluk kon proe (Jeugfiksie)
Toe Arnelia en haar ma van Kaapstad na Potchefstroom verhuis, besluit sy dit is die ideale geleentheid om die draaiboek van haar lewe te herskryf. ’n Nuwe dorp en ’n nuwe skool is die perfekte geleentheid om haarself te herontwerp, om ’n nuwe blaadjie om te slaan.
Operasie Nuwe Arnelia. Oprah sal trots wees.
As mens geluk kon proe is ’n heerlike tienerverhaal propvol humor en deernis, wat bewys dat geluk dikwels in die klein dingetjies skuil. Dit was ’n naaswenner van LAPA se Jeugromankompetisie van 2017.

Die 6 weke van Thomas & Ella (Jeugfiksie)
Dit voel asof Thomas se lippe uiteindelik hul regte doel ontdek het … om Ella s’n te soen! Wag, wag!
Thomas en Ella se wêrelde is ligjare van mekaar verwyder. Sy lewe in ’n wêreld van chauffeurs en rooi tapyte. Hy is die bywoner in die buitekamer. Die ou wat die perfekte meisie rondry; nié die ou wat haar kry nie.
Binne net ses weke kan baie dinge egter verander. Hierdie besonderse jeugroman, vertel uit beide Ella en Thomas se perspektiewe, is ’n humoristiese en aangrypende verhaal oor ’n somerromanse tussen twee jongmense. Internasionaal val hierdie boek in dieselfde kategorie as kontemporêre jeugromanses soos To all the boys I’ve loved before en Always never yours.


Smit Motors (Literêre Fiksie)
Réney Warrington

Petra Smit erf onverwags haar oupa se werkswinkel in ’n klein Vrystaatse dorpie. Daar is kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie.
Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Die einste slagter is ook die buurman. Hy is ’n vroueslaner en skeep sy seun af, maar het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so iemand verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit.
Warrington skroom nie om die mooi én die lelik van ’n kleindorpse verblyf aan die kaak te stel nie. Sy laat nooit toe dat haar karakters net stereotipes word nie.