This event is over.

Kunstefees in die Kleine

Organized by Atterbury Theatre
JANNIE DU TOIT
Kunstefees in die Kleine
Atterburyteater
Sondag 14 Julie 2019

Op 14 Julie hou Jannie sy eie Kunstefees in die Kleine by die Atterburyteater in Pretoria. In totaal kan nagenoeg vyftig liedjies uit die boonste rakke op een dag gehoor word.

Video-opnames van drie volledige produksies wat nog nie vantevore op TV te sien was nie, word op daardie dag tydens die konserte voor gehore opgeneem – Oesjaar om 12h00, Bonjour Monsieur Brel om 15h00 en Kiekies – Lucas se liedjies om 18h00.

Oesjaar bied splinternuwe liedjies uit Jannie se pen – van ernstig tot roerende ballades tot lig skertsend.
In Bonjour Monsieur Brel sing Jannie Jacques Brel se liedjies in vier tale – Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands.
In Kiekies – Lucas se liedjies sing Jannie en Thean Kotze – Lucas Maree se liedjies en vertel staaltjies uit sy lewe.

Benewens die konserte is die heerlike eetplekke van Lynnwood Bridge-sentrum beskikbaar, met ’n spesiale aanbod van die uiters gewilde Stephnie’s: elkeen wat twee of meer van die vertonings bywoon kwalifiseer vir een van 50 afslagbewyse vir daardie dag. Dit behels 15% afslag op hulle gewone spyskaart. Besprekings vir etes moet ook vooraf gedoen word by 012 348 8943 of [email protected]
Vir die produksies self bied Atterburyteater ook afslag aan: R150 vir een vertoning, R220 vir twee vertonings en R270 vir drie vertonings. Bespreek by iTickets - skakel 012 942 5951 vir navrae en groepafslag (10 of meer)

Navrae by Jopie Koen: 072-460-5568 of [email protected] www.janniedutoit.com

Oesjaar
Splinternuwe liedjies uit Jannie se pen – almal gedurende 2018 geskryf en ook op CD opgeneem. Daar is ’n lied oor ‘n legendariese koffiewinkel in Melville, Jannie se tuis-voorstad, asook huldeblyke aan Christa Steyn met wie Jannie vir 25 jaar saamgewerk het en aan Madiba. Hy sing oor die passie wat ’n kunstenaar dryf om aan te hou skryf en sing en oor al die reise wat kunstenaars onderneem om daardie passie uit te leef. Dan is daar ’n liefdeslied geskryf vir sy vrou Therina, met wie hy in 2018 getroud is, en ook ’n tong-in-die-kies lied oor sy gunsteling kossoort.
In Oesjaar word Jannie begelei deur Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Theuns Botha (tromme).

Bonjour Monsieur Brel
Jannie sing Jacques Brel se liedjies in Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Brel se geniale beeldende skryfwerk kom na vore en is soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se opera’s, helaas soos alle groot kuns, tydloos. Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word. In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu. Jannie word begelei deur Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon).

Kiekies – Lucas se liedjies
Jannie du Toit en Thean Kotze
Jannie bied saam met die briljante musikant en sanger Thean Kotze (stigterslid van Ses Snare, vroeër ook lid van die duet Limpopo) ’n huldeblyk aan Lucas Maree. Hulle herontdek sy verbeeldingryke kyk na die lewe en laat die gehoor met persoonlike anekdotes iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

Soos Lucas self die sestigs se folk gesing het met die klem op fyn afgeronde kitaarspel, harmonieë en tekste wat iets te sê het, beweeg Thean en Jannie singend en spelend deur die wonderlike landskap van verhale, ideale, wysheid en drome wat Lucas daargestel het. Lucas Maree se werk boei oud en jonk – ’n seuntjie se gewaarwordinge oor ’n treklorrie tot eindelose, doellose gesprekke tussen geliefdes en die ontdekking dat liefde nie minder word as dit weggegee word nie. Soos die tekste is die musiek ook ryk geskakeer en bied dit aan die kombinasie van kitare en stemme baie ruimte vir eksperimentering en verskeidenheid. Natuurlik is Droomvrou, Sunnyside, Victoriabaai en ’n paar ander bekende liedjies daar, maar kom ontdek juweeltjies soos Gebed in die Laataand, Treklorrielied, Die Bedelspeler, Jerigo se Mure en veel meer. Daarby kom Thean se roerende weergawe van Lucas se kortverhaal-skets oor die Karoo. Dis sielskos.